Springbokrugby van
1949 tot 1953

Tuisblad
Aanloop
Die 1949 Springbokke
teen Nieu-Seeland
Die 1951/52 toer na Brittanje en Frankryk
Die 1953 Springbokke
teen Australië
Bronnelys
 


Hennie Muller - 1949



Hennie Muller (1922-1977)
skitterende agsteman en kaptein




Hennie Muller - 1953

 
 

Opdrag

Hierdie webwerf word aan die Springbok-rugbyspelers van die jare 1949 tot en met 1953 opgedra en veral gewy aan die nagedagtenis van Hennie Muller, wat so 'n groot bydrae tot rugby in Suid-Afrika gedurende die veertiger- en vyftigerjare gelewer het.

Hendrik Scholtz Vosloo Muller is op 26 Maart 1922 te Witbank gebore en was die jongste van vyf broers. Sy ouers is kort na mekaar oorlede toe Hennie nog 'n baba was en sy ma se suster neem hom aan.


Hennie Muller in 1953 met sy vrou,
Florence en hulle kinders, Melanie en Stephen.

Hennie maak op Ficksburg vir die eerste keer met rugby kennis en speel as kaalvoet-seun vir die laerskool se onder-13s. Die gesin vestig hulle op Wakkerstroom waar Hennie eers vleuel en later losskakel speel en as kaptein van die onder-13s en toe die onder-15s diens doen. Hy presteer ook as atleet en is Victor Ludorum vir drie jaar na mekaar. Op slegs 14-jarige ouderdom lê hy die 100 treë in 10.5 sekondes af.

Hy verlaat die skool en aanvaar in 1939 diens op 16-jarige leeftyd by E.R.P.M. (East Rand Premier Mine) waar sy broers werksaam is. Hennie speel eers in die agterlyn en later op flank vir E.R.P.M.; op Jack Kipling se aanbeveling verskuif hy na agsteman waar hy soveel roem verwerf.

In 1943 word die 21-jarige Hennie Muller gekies om vir Transvaal uit te draf teen Noord-Transvaal. Hy speel saam met die oud-Springbok, Jan Lotz, en toekomstige mede-Springbok, Gert Dannhauser en druk die wendrie in hierdie ontmoeting.


Hennie Muller, skitterende agsteman, druk 'n
drie vir Transvaal teen Noord-Transvaal.
Basie van Wyk en 'Pa' Pelser is by om te ondersteun.


Hennie trou in 1945 met Florence Roberts en twee kinders, Melanie en Stephen, word uit die huwelik gebore. 'Florrie', soos sy vrou algemeen bekend was, was 'n groot inspirasie in Hennie se lewe en rugby-loopbaan.

Hennie en sy vrou verhuis na die Kaap waar hy klubrugby vir Parow speel en in 1946 vir die eerste keer vir Westelike Provinsie gekies word. Hy word deur die nuusmedia uitgesonder vanweë sy spoed en vermoë om orals op te duik en drieë te druk.

In 1947 is Hennie en Florence terug in Boksburg waar hy weer vir E.R.P.M. en Transvaal speel. Sy kaptein is weer die oud-Springbok, Jan Lotz en toekomstige


Hennie Muller lei die Westelike Provinsie op die veld
Springbokke soos Piet Malan is in die span. Aan die einde van die seisoen ondergaan Hennie 'n suksesvolle skoueroperasie nadat hy vir 'n geruime tyd klub- en provinsiale rugby gespeel het, ten spyte van 'n lastige besering. In 1948 doen hy 'n ernstige kniebesering in 'n wedstryd teen Westelike Provinsie op en beland weer onder die mes en bestee drie maande in die hospitaal.

In 1949 arriveer Fred Allen se All Blacks as die eerste na-oorlogse toerspan in Suid-Afrika. Hennie Muller blink uit in die proewe en word gekies om die Springbokke op agsteman te verteenwoordig in Felix du Plessis se span. Hy speel in al vier die toetse teen Nieu-Seeland en is 'n doring in die besoekers se vlees. Hy merk veral die losskakel en sy lakwerk veroorsaak telkens dat die bal losrol vir die Springbokke om op te raap. Die Nieu-Seelandse kommentator, Winston McCarthy, skryf dat Muller "'n uitstekende en intelligente speler is wat kan hardloop, soos 'n agterspeler hanteer en met albei voete kan skop. Hy weet wat hom op die rugbyveld te doen staan."

Transvaal wen die Currie-beker in 1950 onder Hennie Muller se aanvoering en gedurende die seisoen sluit die span ander groot name in soos Johnny Buchler, Des Sinclair, Natie Rens, Hansie Oelofse, Frans van der Ryst, Basie van Wyk, Gert Dannhauser, Piet Malan en Okey Geffin, wat almal op die een of ander stadium vir die Springbokke gekies was.


Hennie Muller, die 'Windhond', maak
gereed om die opposisie te takel


Hennie Muller word as onder-kaptein gekies vir die Springbokgroep wat in 1951 en 1952 in Brittanje en Frankryk toer. Toe die kaptein, Basil Kenyon, vroeg in die toer 'n oogbesering opdoen, word Hennie as kaptein aangewys. Hy speel in 20 van die Springbokke se 31 wedstryde en lei Suid-Afrika in al vyf toetse. Hy teken altesaam 25 punte aan op die toer met drie drieë 1, vyf vervyfskoppe en twee strafskoppe en word allerweë as 'n uitstaande kaptein en speler beskryf.

In 1953 word hy as kaptein vir al vier toetse teen die besoekende Wallabies gekies. Die Springbokke wen die reeks met drie toetse teen een en baat weereens uit Hennie Muller se uitstekende leierskap en intelligente spel as agsteman.


Die Wallabie-kaptein, John Solomon, wens Hennie Muller geluk
ná die Springbokke se sege in die derde toets in 1953

Hennie Muller het in altesaam 13 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf en in nege van hierdie toetse as kaptein opgetree. Hy was die enigste speler wat in al die toetse vanaf 1949 teen die All Blacks tot die vierde toets in 1953 teen Australië gespeel het. Hy tree aan die einde van die 1953-seisoen uit as internasionale speler en wy hom aan afrigting en die administratiewe sy van rugby. Hennie sterf in 1977 op die jong ouderdom van 55 jaar.


1.  'n Drie het destyds drie punte getel

 

ATKV - ons maak 'n verskil in Afrikaans


Werfmeester: Dr L E Oberholster Tel: (031) 916-6993